Losing my religion – Deel 3

I thought that I heard you laughing
I thought that I heard you sing
I think I thought I saw you try

But that was just a dream, try, cry, why, try
That was just a dream, just a dream, just a dream
Dream 

Gedurende my studies, het my wêreld waaraan ek blootgestel was baie verbreed. Met hierdie nuwe blootstelling het ek nuwe vrae begin vra. Daar was nie ʼn spesifieke gebeurtenis wat sal kan aandui hoekom ek ongelowig geraak het nie. Dit was inteendeel ʼn lang pad van bevraagteken en wonder.

Ek dink my pa se skeptiese denke teenoor spoke, engele en wonderwerke het dalk die vlammetjie al as kind begin brand. Die wete dat ander gelowe bestaan het ook baie bygedra tot hierdie twyfel. Een van die groottes was toe ek tot die besluit gekom het dat die Hel, en Satan nie bestaan nie. So het God se almag, alwetendheid en alomteenwoordigheid ook later gesneuwel. Stadig maar seker het my helder prentjie van my christelike geloof al hoe meer gryser geraak.

Ten spyte van al hierdie twyfel het ek myself steeds as ʼn christen beskou. ʼn Vriendin het my eendag gevra, in haar poging om haar twyfel te bevredig, of ek werklik in God en die Bybel glo. My antwoord aan haar was,”… ten spyte van al die twyfel en teenstrydigheid, maak my geloof in Jesus my ten minste ʼn beter mens.”

My geloof in Jesus was vir lank die enigste rede hoekom ek my as ʼn christen beskou het.
Ek het tot vandag toe nie myself vergewe vir dit nie. Alhoewel ek my as ʼn christen beskou het, was ek nie werklik eerlik teenoor haar nie. Ek was ook nie eerlik teenoor myself nie. Die vriendin het gedurende die volgende jaar uit die kas geklim. Sy het in ʼn klein boeregemeenskap groot geword, maar ten spyte van haar moontlike verwerping van vriende en haar familie, het sy nog steeds opgestaan vir wat sy geweet het is die regte ding om te doen. Sy het baie meer moed en eerlikheid getoon as wat ek bereid was om in my eie lewe op daardie stadium toe te pas.

Eers in 2006 het ek amptelik, aan myself erken dat ek ongelowig is. Kort daarna het my ma my ook met die vraag gekonfronteer. Ek het slegs aan ʼn handjievol mense my ongelowigheid bekend gemaak. My oortuigings het daar toe gelei dat ek eensaam was. My skoolvriend sedert laerskool het my hieroor verwerp. Dit het twee liefdesverhoudinge kort geknip. Eensaamheid het tot woede en frustrasie gelei. Ek was oortuig dat ek eendag alleen oud gaan word, het amper die besluit geneem om dit vir die res my lewe te swyg.

Gelukkig, aan die einde van 2008, het ek wel iemand ontmoet. Sy het my aanvaar met my ongeloof asook al my foute.
Vandag, in 2015, is dit 2 jaar nadat ons mekaar trou beloof het. Ek weet dat ek nog baie lank saam met haar ons eie pad gaan stap.

Losing my religion – Deel 2

Consider this
The hint of the century
Consider this
The slip that brought me
To my knees failed
What if all these fantasies
Come flailing around
Now I’ve said too much

I thought that I heard you laughing
I thought that I heard you sing
I think I thought I saw you try

But that was just a dream
That was just a dream

That’s me in the corner
That’s me in the spotlight
Losing my religion
Trying to keep up with you
And I don’t know if I can do it
Oh no I’ve said too much
I haven’t said enough

Daar was ʼn tyd gewees wat ons as familie glad nie kerk toe gegaan het nie. Geen groot aankondiging of rede gegee nie. Lewe het maar voortgegaan soos normaal, behalwe dat ons net nie meer Sondae die kerk uitstappie gedoen het nie. Die “paw-paw het die fan gestrike” toe ons een jaar vir my grootouers (aan my pa se kant) in Namibië gekuier het. Hierdie oupa en ouma was geweldig gelowig en konserwatief. Soos dit maar van die familie verwag is, het ons op die Sondag met ons kuier saam kerk toe gegaan. Na dit het oupa ʼn bietjie met ons gesels oor die kerk en kategete.

Uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor. 

Die woord kategete was vir ons baie vreemd. Ek kan nie onthou of dit ek of my suster was nie, maar toe ons vra wat dit beteken, het my oupa agterdogtig geraak. Met groot bekommernis vra hy toe of ons kerk toe gaan en uit onskuld toe natuurlik nee gesê. Ek kan nie presies onthou wat daarna gebeur het nie, maar die grootmense het binne die huis gesels terwyl ek en my suster buite gespeel het. Van daar af was ons weer baie nou betrokke by die kerk. Ons was so betrokke dat ek, nadat ek my belydenis van geloof op 17 afgelê het, in Matriek die graad 5 kategete klas aangebied het. Ek as 18 jarige het 11 jariges oor die Here en sy kerk geleer.

Daar was ʼn oomblik, aan die einde van Matriek toe ek my toekomstige loopbaan moes oorweeg, wat ek amper die besluit geneem het om vir predikant te studeer. Gelukkig het die finansiële aspek van hierdie loopbaan keuse nie baie rooskleurig gelyk nie, en so het ek iets toe anders gekies.

Die Herder

Fluister saggies
want niemand moet hoor…
Skape om ons
sing saam soos een groot koor

Heilig! Heilig!
Prys sy naam!
terwyl dade van minagting
voortgaan en skaam.

Reg! Reg!
Ons is Reg!
Omdat jy nie soos Ons dink nie
is jy net sleg!

Fluister saggies
en wees nie bang…
Opregte goeie dade is beter as
gillende, skreeuende sang.

Hierdie gedig was geskryf in 2008.

Gedurende die tydperk was ek baie gekonfronteer met die idee van geloof en die dubbelstandaarde wat binne die formele en informele strukture toegepas word.

Alhoewel ek reeds in 2006 finaal besluit het dat geloof en die konsep van ‘n god nie nodig is om sin te maak van die lewe nie (die wetenskaplike wyse het inteendeel vir my baie meer gerusstelling gegee), het ek eers in 2007 en 2008 regtig hiermee gestoei.

Ek het veral besonders alleen gevoel.

Ek was die enigste persoon in my vriendekring wat ongelowig was. Ek het dit slegs aan enkele persone erken, uit vrees vir verwerping. My toegang tot die internet gedurende die tyd was baie beperk, wat my nie die blootstelling aan die wat soortgelyk soos ek dink kon bied nie.

Vandag leef ek in vrede met my ongelowigheid. Ek sukkel met tye om my as ‘n ateïs te etiketeer, as gevolg van die negatiewe konnotasie daaraan gekoppel deur die Afrikaner gemeenskap. Ten spyte van die feit dat ek ‘n vandag ‘n volwassene is, openbaar ek my ongelowigheid slegs aan vertrouelinge. In my werksomgewing word hierdie manier van dink glad nie toegelaat nie.

Ek dink egter dis tyd dat dit moet verander.