Troepie en Jy

Geagte Jan,

In my jonger dae as student het my gedagtes baie gedwaal. Veral teenoor my pa en hoe hy sy jeug gespandeer het.

My pa het in die 1980’s in die Suid-Afrikaanse weermag gedien waar hy volk en vaderland teen die rooi, kommunistiese gevaar verdedig het. Hy was soos baie wat geglo het in die saak en bereid was om sy lewe neer te lê vir die ideale van die Apartheid regering.

Ek wonder of ek ook onder die waansin gehipnotiseer sou word. Vandag is dit maklik vir my om te sê dat dit verkeerd was, dat wetgewing om iemand te oordeel bloot op sy ras en kultuur ʼn gruwelike skending van menseregte is. Ek besef egter dat selfs vandag sukkel ek om mense openlik teen te staan indien ek nie met hulle saam stem nie.

Nie te min, die eintlike rede hoekom ek vir jou skryf is oor liefde. Die liefde tussen my ma en pa.

Hoe sterk moes hierdie liefde nie gewees het om, nie net die lang tye van mekaar se afwesigheid te oorleef nie, maar ook die onsekerheid. My ma moes lang tye van stilte wag op ʼn brief vanaf my pa wat net so wel die aankondiging van sy dood kon gewees het. Alhoewel dit die norm was, sê dit iets rondom konstante vrees van daardie tyd.

Met hierdie ingedagte het ek toe ʼn gedig aan my ouers gerig. Ek hoop dit doen hulle die eer aan wat hulle verdien om hierdie geweldige struikelblok te oorkom.

Troepie en Jy

Dapper en stapper loop oor die gras.
Swaar is my loop, my las.

Die koue knal groet my…

Jou verrimpelde foto aan my,
die nuwe jy met jou mooi haarsny.

Lank terug was jy nog aan my sy
met my arm om jou skouer…

Gelukkige tye wat by my bly.

Mistige asem dwaal uit my uit.
Snerpende stilte wat aan my vingers byt.

Bloedrooi…

Is die son wat deur die horison breek.
Warm is die pyn wat in my sy vassteek.

ʼn Vaal figuur kom te verskyn
daar waar die kronkelende pad voor

verdwyn.

Mistige asem dwaal uit,
fluit-fluit, my storie uit.