Mein kampf

Vroegnagaand, net voor kwaaddoeners roer,
word ek met stories gelepelvoer.
van God
van Jesus
van al sy dissipels en die Heilige Gees.

Stories van al sy wonderwerke.
Engele met pragtige wit geveerde vlerke.
Satan die slegte slang.
O Here, ek is so baie bang.

Met stille nag sluimer ek in ‘n soete slaap.
Droom van Adam en Eva en mens word Aap.
van Priesters met jong seuntjies
van Tannies
van Tee en baie Skinder.

Skielik skrik ek wakker.
Helder Lig word dof.
My kop word dof.
Die vision word stadig, al vlakker.

My gedagtes strek wyd
oor Liefde en Leuens
oor Wetenskap en Waarsêry
oor Profete en Ja-Broers.

My stryd…

Geskryf in die jaar van 2008.

In die tydperk was ek ook besig om die politieke manifes van Adolf Hitler te lees wat hy geskryf het terwyl hy sy tronkstraf in Landsberg uitgedien het. Die boek was as ‘n geskenk vir my gegee, omdat hierdie tydperk van die menslike geskiedenis (die vroeë twintigste eeu) van groot belangstelling vir my is, en ook as gevolg van my Duitse herkoms van my pa se kant af.

Ek moet bieg, ek het nogals gesukkel om hierdie boek klaar te lees. Dit was moeilik om te volg en Adolf Hitler se argumente het my gewroeg.

Gedurende my Hoërskool jare was ek nogals trots op my Duitse herkoms. In my vriendekring het ons op amper ʼn daaglikse basis gesels oor die Tweede Wêreld Oorlog, en ook gefantaseer oor hoe dit sou wees om in daardie tydperk te leef.

Foto’s van Nazi-party saamtrekke, wat lyk soos miljoene mense wat bymekaar kom terwyl die swastikas wapper. Waar hierdie mense, soos een man uit dieselfde mond praat, en salueer. Die uniforms van die soldate en die simbole wat saam die Nazi-party gepaard gaan. Hierdie het my regtig baie gefassineer. So baie, dat ek dit vir ons Afrikaner gekoester het.
Soos wat ek meer gelees het oor hierdie onderwerp, het ek ook al hoe meer bewus geraak van die geweldige hartseer wat hierdie konflik veroorsaak het. Die volksmoord van die Jode en ander minderheidsgroepe het my geruk. Miljoene lewens was totaal en al vernietig, en vir wat? Vir die blote idee om jou verwronge ideale op ander af te forseer, ten alle koste.

Vandag, wanneer ek terug dink aan die etlike pouses wat ons op die grasperk gesit het en hierdie verskriklike tydperk verromantiseer het, kry ek baie skaam. Skaam dat ek nie verder en weier gedink het nie.

Ek sien baie vergelykings wat ʼn mens kan trek tussen die Nazi-party en die kerk, veral die Rooms-Katolieke kerk.
Die persoon wat die uiteindelike gesagsfiguur is, die simbole wat gebruik word om jou met die beweging te identifiseer. Die boek wat gebruik word om mense te indoktrineer. Die vorige skending van menseregte om jou beweging se ideale te bevorder. So kan ʼn persoon seker nog menigte noem.

Ek het in my einde matriek-jaar besef dat, as ek wil trots wees op my herkoms, ek alle aspekte moet aanvaar en tot ʼn mate verantwoordelikheid vat. Verantwoordelikheid vat vir die sondes van jou vaders. Erken wat hulle goed én ook uiteindelik sleg behaal het. Indien ek net die goeie dele gaan cherry-pick, ek in onreg optree teen die mense wat deur die besluite van die verlede geskaad is. Dat ek ook in onreg optree van mense wat die gevolge van hierdie besluite vandag probeer reg stel.
Maar wat ek ook uiteindelik besef het, is dat dit arrogant van my is om trots te wees op iets wat ek net outomaties ontvang het. Ek het geen keuse gemaak om deel te wees van hierdie herkoms nie, geen bydrae gelewer tot die verbetering hierdie nasie nie. Niks.

Kan ʼn mens werklik trots wees op iets wat jy as ʼn gegewe deel is van? Ek ken mense wat graag erken hulle is trots om ʼn Blanke Afrikaner te wees.

Maar dit is ʼn argument vir ʼn ander geleentheid.