Mein kampf

Vroegnagaand, net voor kwaaddoeners roer,
word ek met stories gelepelvoer.
van God
van Jesus
van al sy dissipels en die Heilige Gees.

Stories van al sy wonderwerke.
Engele met pragtige wit geveerde vlerke.
Satan die slegte slang.
O Here, ek is so baie bang.

Met stille nag sluimer ek in ‘n soete slaap.
Droom van Adam en Eva en mens word Aap.
van Priesters met jong seuntjies
van Tannies
van Tee en baie Skinder.

Skielik skrik ek wakker.
Helder Lig word dof.
My kop word dof.
Die vision word stadig, al vlakker.

My gedagtes strek wyd
oor Liefde en Leuens
oor Wetenskap en Waarsêry
oor Profete en Ja-Broers.

My stryd…

Geskryf in die jaar van 2008.

In die tydperk was ek ook besig om die politieke manifes van Adolf Hitler te lees wat hy geskryf het terwyl hy sy tronkstraf in Landsberg uitgedien het. Die boek was as ‘n geskenk vir my gegee, omdat hierdie tydperk van die menslike geskiedenis (die vroeë twintigste eeu) van groot belangstelling vir my is, en ook as gevolg van my Duitse herkoms van my pa se kant af.

Ek moet bieg, ek het nogals gesukkel om hierdie boek klaar te lees. Dit was moeilik om te volg en Adolf Hitler se argumente het my gewroeg.

Gedurende my Hoërskool jare was ek nogals trots op my Duitse herkoms. In my vriendekring het ons op amper ʼn daaglikse basis gesels oor die Tweede Wêreld Oorlog, en ook gefantaseer oor hoe dit sou wees om in daardie tydperk te leef.

Foto’s van Nazi-party saamtrekke, wat lyk soos miljoene mense wat bymekaar kom terwyl die swastikas wapper. Waar hierdie mense, soos een man uit dieselfde mond praat, en salueer. Die uniforms van die soldate en die simbole wat saam die Nazi-party gepaard gaan. Hierdie het my regtig baie gefassineer. So baie, dat ek dit vir ons Afrikaner gekoester het.
Soos wat ek meer gelees het oor hierdie onderwerp, het ek ook al hoe meer bewus geraak van die geweldige hartseer wat hierdie konflik veroorsaak het. Die volksmoord van die Jode en ander minderheidsgroepe het my geruk. Miljoene lewens was totaal en al vernietig, en vir wat? Vir die blote idee om jou verwronge ideale op ander af te forseer, ten alle koste.

Vandag, wanneer ek terug dink aan die etlike pouses wat ons op die grasperk gesit het en hierdie verskriklike tydperk verromantiseer het, kry ek baie skaam. Skaam dat ek nie verder en weier gedink het nie.

Ek sien baie vergelykings wat ʼn mens kan trek tussen die Nazi-party en die kerk, veral die Rooms-Katolieke kerk.
Die persoon wat die uiteindelike gesagsfiguur is, die simbole wat gebruik word om jou met die beweging te identifiseer. Die boek wat gebruik word om mense te indoktrineer. Die vorige skending van menseregte om jou beweging se ideale te bevorder. So kan ʼn persoon seker nog menigte noem.

Ek het in my einde matriek-jaar besef dat, as ek wil trots wees op my herkoms, ek alle aspekte moet aanvaar en tot ʼn mate verantwoordelikheid vat. Verantwoordelikheid vat vir die sondes van jou vaders. Erken wat hulle goed én ook uiteindelik sleg behaal het. Indien ek net die goeie dele gaan cherry-pick, ek in onreg optree teen die mense wat deur die besluite van die verlede geskaad is. Dat ek ook in onreg optree van mense wat die gevolge van hierdie besluite vandag probeer reg stel.
Maar wat ek ook uiteindelik besef het, is dat dit arrogant van my is om trots te wees op iets wat ek net outomaties ontvang het. Ek het geen keuse gemaak om deel te wees van hierdie herkoms nie, geen bydrae gelewer tot die verbetering hierdie nasie nie. Niks.

Kan ʼn mens werklik trots wees op iets wat jy as ʼn gegewe deel is van? Ek ken mense wat graag erken hulle is trots om ʼn Blanke Afrikaner te wees.

Maar dit is ʼn argument vir ʼn ander geleentheid.

Losing my religion – Deel 3

I thought that I heard you laughing
I thought that I heard you sing
I think I thought I saw you try

But that was just a dream, try, cry, why, try
That was just a dream, just a dream, just a dream
Dream 

Gedurende my studies, het my wêreld waaraan ek blootgestel was baie verbreed. Met hierdie nuwe blootstelling het ek nuwe vrae begin vra. Daar was nie ʼn spesifieke gebeurtenis wat sal kan aandui hoekom ek ongelowig geraak het nie. Dit was inteendeel ʼn lang pad van bevraagteken en wonder.

Ek dink my pa se skeptiese denke teenoor spoke, engele en wonderwerke het dalk die vlammetjie al as kind begin brand. Die wete dat ander gelowe bestaan het ook baie bygedra tot hierdie twyfel. Een van die groottes was toe ek tot die besluit gekom het dat die Hel, en Satan nie bestaan nie. So het God se almag, alwetendheid en alomteenwoordigheid ook later gesneuwel. Stadig maar seker het my helder prentjie van my christelike geloof al hoe meer gryser geraak.

Ten spyte van al hierdie twyfel het ek myself steeds as ʼn christen beskou. ʼn Vriendin het my eendag gevra, in haar poging om haar twyfel te bevredig, of ek werklik in God en die Bybel glo. My antwoord aan haar was,”… ten spyte van al die twyfel en teenstrydigheid, maak my geloof in Jesus my ten minste ʼn beter mens.”

My geloof in Jesus was vir lank die enigste rede hoekom ek my as ʼn christen beskou het.
Ek het tot vandag toe nie myself vergewe vir dit nie. Alhoewel ek my as ʼn christen beskou het, was ek nie werklik eerlik teenoor haar nie. Ek was ook nie eerlik teenoor myself nie. Die vriendin het gedurende die volgende jaar uit die kas geklim. Sy het in ʼn klein boeregemeenskap groot geword, maar ten spyte van haar moontlike verwerping van vriende en haar familie, het sy nog steeds opgestaan vir wat sy geweet het is die regte ding om te doen. Sy het baie meer moed en eerlikheid getoon as wat ek bereid was om in my eie lewe op daardie stadium toe te pas.

Eers in 2006 het ek amptelik, aan myself erken dat ek ongelowig is. Kort daarna het my ma my ook met die vraag gekonfronteer. Ek het slegs aan ʼn handjievol mense my ongelowigheid bekend gemaak. My oortuigings het daar toe gelei dat ek eensaam was. My skoolvriend sedert laerskool het my hieroor verwerp. Dit het twee liefdesverhoudinge kort geknip. Eensaamheid het tot woede en frustrasie gelei. Ek was oortuig dat ek eendag alleen oud gaan word, het amper die besluit geneem om dit vir die res my lewe te swyg.

Gelukkig, aan die einde van 2008, het ek wel iemand ontmoet. Sy het my aanvaar met my ongeloof asook al my foute.
Vandag, in 2015, is dit 2 jaar nadat ons mekaar trou beloof het. Ek weet dat ek nog baie lank saam met haar ons eie pad gaan stap.

Losing my religion – Deel 2

Consider this
The hint of the century
Consider this
The slip that brought me
To my knees failed
What if all these fantasies
Come flailing around
Now I’ve said too much

I thought that I heard you laughing
I thought that I heard you sing
I think I thought I saw you try

But that was just a dream
That was just a dream

That’s me in the corner
That’s me in the spotlight
Losing my religion
Trying to keep up with you
And I don’t know if I can do it
Oh no I’ve said too much
I haven’t said enough

Daar was ʼn tyd gewees wat ons as familie glad nie kerk toe gegaan het nie. Geen groot aankondiging of rede gegee nie. Lewe het maar voortgegaan soos normaal, behalwe dat ons net nie meer Sondae die kerk uitstappie gedoen het nie. Die “paw-paw het die fan gestrike” toe ons een jaar vir my grootouers (aan my pa se kant) in Namibië gekuier het. Hierdie oupa en ouma was geweldig gelowig en konserwatief. Soos dit maar van die familie verwag is, het ons op die Sondag met ons kuier saam kerk toe gegaan. Na dit het oupa ʼn bietjie met ons gesels oor die kerk en kategete.

Uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor. 

Die woord kategete was vir ons baie vreemd. Ek kan nie onthou of dit ek of my suster was nie, maar toe ons vra wat dit beteken, het my oupa agterdogtig geraak. Met groot bekommernis vra hy toe of ons kerk toe gaan en uit onskuld toe natuurlik nee gesê. Ek kan nie presies onthou wat daarna gebeur het nie, maar die grootmense het binne die huis gesels terwyl ek en my suster buite gespeel het. Van daar af was ons weer baie nou betrokke by die kerk. Ons was so betrokke dat ek, nadat ek my belydenis van geloof op 17 afgelê het, in Matriek die graad 5 kategete klas aangebied het. Ek as 18 jarige het 11 jariges oor die Here en sy kerk geleer.

Daar was ʼn oomblik, aan die einde van Matriek toe ek my toekomstige loopbaan moes oorweeg, wat ek amper die besluit geneem het om vir predikant te studeer. Gelukkig het die finansiële aspek van hierdie loopbaan keuse nie baie rooskleurig gelyk nie, en so het ek iets toe anders gekies.

Losing my religion – Deel 1

Life is bigger
It’s bigger
And you, you are not me
The lengths that I will go to
The distance in your eyes
Oh no, I’ve said too much
I set it up

That’s me in the corner
That’s me in the spotlight
Losing my religion
Trying to keep up with you
And I don’t know if I can do it
Oh no I’ve said too much
I haven’t said enough

Hierdie is die begin lirieke van R.E.M se “Losing my religion”. Ek kan nie regtig sê dat ek ooit ʼn groot aanhanger van hulle was nie, alhoewel hulle so nou en dan ʼn treffer vorendag mee gekom het. Ek reken dit het grootliks te doen met die feit dat hulle musiek geproduseer het voordat ek my eie finansiële besluite kon neem.
Dis een ding van kind wees; jy droom van al die goed wat jy vir jouself gaan kry sodra jy in beheer is. Sodra jy jou eie geld verdien. Wanneer jy egter in die volwasse wêreld leef waar jy, nie net vir jouself maar ook vir ander verantwoordelik is, die lewe baie meer ingewikkeld word.

Ek reken ek het in redelike algemene omstandighede groot geword. Ouers was konserwatief, maar niks wat nie die norm vir die Wes-Transvaal gedurende die 80’s en 90’s was nie.
Daar is seker ʼn paar goed wat dalk uitstaan:
• My pa was betrokke in ʼn insident, by die myn waar hy gewerk het, waar hy amper die gebruik van sy voet in ʼn rotsstorting verloor het. Die dokters kon wel die voet red, maar my pa wat ʼn geesdriftige sportman was, kon glad nie meer die aktiewe leefstyl voor die geval handhaaf nie.
• My ouers was gedurende die vroeë 90’s deel van die verregse Afrikaner Weerstand Beweging of te wel AWB. Hierdie was ter voorbereiding vir die komende slagting wat die swart/rooi gevaar sou bring wanneer hulle aan bewind sou kom. Dit het gelukkig nooit in iets drasties verander nie. Behalwe vir geheime vergaderings en kampe oor naweke (hier het ons opleiding ontvang oor hoe ons sou oorleef vir wanneer burger oorlog sou uitbreek) het dit nie my lewe ontwrig nie.
Ons het nooit regtig gesit en gesels oor hoekom my ouers wel besluit het om die AWB verlaat nie. Wat ek wel weet is, as gevolg van ander gesprekke, dat dit daarop neer gekom het die familie se veiligheid ʼn faktor was.
• My ma was in 1987 met Lupus gediagnoseer. Dit het later veroorsaak dat sy medies ongeskik vir werk verklaar was en dus die rol as huisvrou moes betree. Die siekte het tot geweldige hoë mediese kostes gelei . My ma het later, as indirekte gevolg van die siekte en die omstandighede wat daarop gelei het, ʼn depressie lyer geword. Sy het op twee geleenthede haar eie lewe probeer neem.

Dis nie altyd maklik om te sê hoe ʼn spesifieke gebeurtenis ʼn persoon op hierdie of daardie manier gevorm het nie. Dat dit wel my gevorm het, is daar geen twyfel nie.

Die Herder

Fluister saggies
want niemand moet hoor…
Skape om ons
sing saam soos een groot koor

Heilig! Heilig!
Prys sy naam!
terwyl dade van minagting
voortgaan en skaam.

Reg! Reg!
Ons is Reg!
Omdat jy nie soos Ons dink nie
is jy net sleg!

Fluister saggies
en wees nie bang…
Opregte goeie dade is beter as
gillende, skreeuende sang.

Hierdie gedig was geskryf in 2008.

Gedurende die tydperk was ek baie gekonfronteer met die idee van geloof en die dubbelstandaarde wat binne die formele en informele strukture toegepas word.

Alhoewel ek reeds in 2006 finaal besluit het dat geloof en die konsep van ‘n god nie nodig is om sin te maak van die lewe nie (die wetenskaplike wyse het inteendeel vir my baie meer gerusstelling gegee), het ek eers in 2007 en 2008 regtig hiermee gestoei.

Ek het veral besonders alleen gevoel.

Ek was die enigste persoon in my vriendekring wat ongelowig was. Ek het dit slegs aan enkele persone erken, uit vrees vir verwerping. My toegang tot die internet gedurende die tyd was baie beperk, wat my nie die blootstelling aan die wat soortgelyk soos ek dink kon bied nie.

Vandag leef ek in vrede met my ongelowigheid. Ek sukkel met tye om my as ‘n ateïs te etiketeer, as gevolg van die negatiewe konnotasie daaraan gekoppel deur die Afrikaner gemeenskap. Ten spyte van die feit dat ek ‘n vandag ‘n volwassene is, openbaar ek my ongelowigheid slegs aan vertrouelinge. In my werksomgewing word hierdie manier van dink glad nie toegelaat nie.

Ek dink egter dis tyd dat dit moet verander.

Troepie en Jy

Geagte Jan,

In my jonger dae as student het my gedagtes baie gedwaal. Veral teenoor my pa en hoe hy sy jeug gespandeer het.

My pa het in die 1980’s in die Suid-Afrikaanse weermag gedien waar hy volk en vaderland teen die rooi, kommunistiese gevaar verdedig het. Hy was soos baie wat geglo het in die saak en bereid was om sy lewe neer te lê vir die ideale van die Apartheid regering.

Ek wonder of ek ook onder die waansin gehipnotiseer sou word. Vandag is dit maklik vir my om te sê dat dit verkeerd was, dat wetgewing om iemand te oordeel bloot op sy ras en kultuur ʼn gruwelike skending van menseregte is. Ek besef egter dat selfs vandag sukkel ek om mense openlik teen te staan indien ek nie met hulle saam stem nie.

Nie te min, die eintlike rede hoekom ek vir jou skryf is oor liefde. Die liefde tussen my ma en pa.

Hoe sterk moes hierdie liefde nie gewees het om, nie net die lang tye van mekaar se afwesigheid te oorleef nie, maar ook die onsekerheid. My ma moes lang tye van stilte wag op ʼn brief vanaf my pa wat net so wel die aankondiging van sy dood kon gewees het. Alhoewel dit die norm was, sê dit iets rondom konstante vrees van daardie tyd.

Met hierdie ingedagte het ek toe ʼn gedig aan my ouers gerig. Ek hoop dit doen hulle die eer aan wat hulle verdien om hierdie geweldige struikelblok te oorkom.

Troepie en Jy

Dapper en stapper loop oor die gras.
Swaar is my loop, my las.

Die koue knal groet my…

Jou verrimpelde foto aan my,
die nuwe jy met jou mooi haarsny.

Lank terug was jy nog aan my sy
met my arm om jou skouer…

Gelukkige tye wat by my bly.

Mistige asem dwaal uit my uit.
Snerpende stilte wat aan my vingers byt.

Bloedrooi…

Is die son wat deur die horison breek.
Warm is die pyn wat in my sy vassteek.

ʼn Vaal figuur kom te verskyn
daar waar die kronkelende pad voor

verdwyn.

Mistige asem dwaal uit,
fluit-fluit, my storie uit.


My genesis

'n Nuwe Begin

‘n Nuwe Begin

Geagte Jan,

In die begin was dit blykbaar woes en leeg. So is dit ook met my en hierdie eerste plasing. Dis nogals intimiderend indien jy die eerste keer, met amper alles in die lewe, iets aanpak.

Ek hoop om dit wat ek in my lewe, die uitdagings, konstante vrae en hopelik suksesse hier met jou te deel. Jy mag dalk nie altyd hou waarvan ek hier vir jou skryf nie, maar ek hoop dat jy jou gedagtes en idees ook met my sal deel.

Inteendeel, ek kan seker daarop reken, of hoe?

Groetnis
Die Dromer